deur Philip Neal

Vertaal deur Helmut Burger

pdfIcon | Transkripsie

Een van die sentrale beginsels van hedendaagse Protestantse Christendom is die sogenaamde "geheime wegraping" lering. Die wegrapingleer voer, met geringe variasies, in wese aan dat Jesus in die geheim sal terugkeer om alle "geredde" Christene na die hemel weg te raap net voor die verskyning van die eindtyd Antichris en die begin van die Groot Verdrukking. Jesus se klandestiene terugkeer kan gevolglik, teoreties, nou enige dag plaasvind. Belangrik egter, is dat hierdie "geheime terugkeer" nie Jesus se werklike "tweede koms" is nie – welke steeds verklaar word om plaas te vind na die Groot Verdrukking.

Hierdie skielike verdwyning van miljoene "wedergebore" Christene sal, natuurlik, tot massiewe verwarring en chaos regoor die wêreld lei. Die miljoene verlore siele wat "agter gelaat" word sal verder die afgryslikhede van die Groot Verdrukking moet verduur.

Maar wat van "die wat in Christus gesterf het" – is hulle nie ook betrokke in die wegraping nie? Daar bestaan klaarblyklik twee denkskole aangaande hierdie punt: Sommige leer dat "die wat in Christus gesterf het" inderdaad op die tydstip van die wegraping verrys sodat hulle ook deelneem aan hierdie hemelse vergadering. Ander, egter, leer dat die wegraping net van toepassing is op Christene wat lewend is; "die wat in Christus gesterf het" moet wag vir die opstanding, welke verklaar word plaas te vind na die Groot Verdrukking, met Jesus se "werklike wederkoms."

Die wegrapingsleer word gekompliseer deur die kwessie van die opstanding. In Protestantse teologie word die opstanding selde genoem. Dit is trouens amper `n verleentheid. Per slot van sake, watter doel is daar met `n opstanding vir die "wedergebore" Christen wat op die tydstip van die dood opvaar na die hemel? Jy is alreeds in die hemel, besig om jou ewige beloning te geniet. Waarom sou jy die hemel wou verlaat, terugkom aarde toe en op die een of ander manier herenig wou raak met jou liggaam? Die Protestantse antwoord is dat die heengegane Christen – wat skynbaar in die hemel, moontlik vir baie, baie jare, rondgehang het – op een of ander tydstip `n "geestelike liggaam" gegee moet word.

Om hierdie rede, die opstanding. Maar wag – sou dit dan nie beteken dat diegene in die hemel die heeltyd nog slegs onliggaamlike siele was nie? Jy kan die verwarring sien wat volg op `n poging om "hemel toe gaan" te versoen met die bybelse opstanding.

In ieder geval, wat van die sogenaamde "geheime wegraping"? Is dit waar? Is dit gegrond op gesonde bybelse interpretasie? Of is dit `n vals teorie wat deur evangeliesgesinde predikers bepleit word met slegs die doel om hulle aanhangers te kalmeer betreffende die verwagte afgryslikheid van die Groot Verdrukking? Ontvlugting is tog wel natuurlik. Maar, soos ons sal sien, beloof die Bybel nêrens dat Christene kollektief van alle lydinggedurende die laaste dae van hierdie era vrygestel sal word nie. Ons word, inteendeel, gesê dat ten minste sommige Christene lyding – selfs martelaarskap – sal verduur net voor Christus se wederkoms.

Hierdie stuk sal, uit die Bybel uit, aantoon dat die sogenaamde "geheime wegraping" gedagte `n vals lering is wat, om die waarheid te sê, einttyd Christene niks meer as vals hoop gee nie!

Oorsprong van die Wegrapingsleer

Die "geheime wegrapingsleer" kan teruggespoor word na John Nelson Darby, `n 19de-eeuse Britse prediker. Darby het die leer in die 1830's ontwikkel en bevorder. Dekades later het die Amerikaanse regsgeleerde en predikant, C.I. Scofield – outeur van die bekende Scofield Reference Bible (1909) – die leer verfyn en gewild gemaak onder die evangeliesgesindes in die Verenigde State.

In moderne tye het profesie-entoesias, Hal Lindsey, die wegrapingsgedagte in die hoofstroom ingebring met sy wyd-gelese The Late Great Planet Earth (1970). Meer onlangs het Tim LaHaye se gewilde romanreeks, Left Behind, die "wegraping" `n huishoudelike woord onder "wedergebore" Christene gemaak.

Die wegrapingsleer vorm vandag tot `n groot mate die middelstuk van Protestantse eskatologie. Die "geheime wegraping" is trouens vir "wedergebore" Christene dié sleutel-einttydgebeurtenis. En soos reeds gesien, kan dit te eniger tyd gebeur, met weinig of geen vooraf waarskuwing nie – `n algehele verrasing. Gevolglik die gewilde bufferplakker, "Warning: In the Rapture this car will suddenly be without a driver!"

Dit is belangrik om daarop te let dat die uitdrukking "wegraping" nêrens in die Bybel gebruik word nie. As `n naamwoord is die "Wegraping" `n uitgedinkte teologiese term – wat nou sy plek ingeneem het saam met terme soos die Antichris, die Groot Verdrukking, die Parousia (sigbare wederkoms van Christus), ensovoorts.

Soos hierdie stuk sal uitwys, verbreek die "geheime wegrapingleer" verskeie reëls van Bybeluitlegging. 1) Die leer is `n klassieke voorbeeld van die selektiewe uitkies, ("cherry-picking"), van bybelverse in `n poging om `n vooropgestelde idee te ondersteun; 2) Die leer gebruik `n aantal skrifgedeeltes buite konteks en wangebruik hulle duidelike betekenis; en 3) Die leer laat na om al die skrifgedeeltes relevant tot die bespreking, te inkorporeer.

Laat ons, voordat ons die "geheime wegraping" ontmasker, weer na die leer kyk, punt vir punt:

1) Die wegraping vind plaas wanneer Jesus skielik en in die geheim na die aarde kom om alle "wedergebore" Christene na die hemel te versamel. Belangrik is dat dit gebeur sonder waarskuwing of teken – en kan letterlik nou enige dag gebeur.

2) Volgens meeste voorstanders sluit die wegraping beide lewende Christene en "die wat in Christus gesterf het" in. `n Minderheidsiening is dat die wegraping slegs vir daardie Christene is wat lewe in die laaste dae.

3) Die wegraping vind plaas voor die aanvang van die Groot Verdrukking – daarom word dit baiemaal die voor-Verdrukking wegraping genoem. Christene word die afgryslikhede van die Groot Verdrukking gevolglik gespaar. Dit blyk die onderliggende motief vir die leer te wees – dat Christene nie sal ly gedurende hierdie tyd nie.

4) Afhangende van die spesifieke denkskool, duur die Groot Verdrukking – wat beskryf word as `n tyd van wêreldwye moeilikheid sonder weerga – of vir drie-en-`n-half jaar of vir sewe jaar.

5) Na die Groot Verdrukking keer Jesus "amptelik" en sigbaar terug na die aarde om teen Sy vyande in die Slag van Armagedon te veg. Protestante praat derhalwe van die wegraping in teenstelling met die Parousia.

Vasstelling van die korrekte Tydlyn

Wegrapingsteoretici hou daarvan om met die apostel Paulus te begin – in besonder met I Thessalonisense 4. Maar dit is `n fout. Die beste plek om mee te begin is by Jesus – met wat Hy gesê het oor Sy eie wederkoms. Eers dan kan ons `n akkurate tydlyn van eindtydgebeure kry.

In Mattheus 24:3 vra Jesus se dissipels hom vir `n teken wat die einde van die era en Sy wederkoms – of parousia (letterlik verskyning of teenwoordigheid) – sal aankondig. Jesus het verskeie aanduiders van die eindtyd aan hulle gegee – toenemende oorloë, hongersnode, natuurrampe, valse profete, ensovoorts. Maar in vers 15 het Hy vir Sy dissipels `n konkrete teken gegee: die "gruwel van die verwoesting" soos vooraf vertel deur die profeet Daniël. In vers 21 koppel Jesus die verskyning van hierdie "gruwel" met die begin van die "Groot Verdrukking." "Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom ...dan sal daar groot verdrukking wees..."(Mat 24:15,21).

Daniël gee dieselfde scenario weer. In hoofstuk 11 beskryf hy `n oorlogvoerende politieke entiteit, genoem die "koning van die Noorde,"  wat, in die "tyd van die einde," Palestina binneval en Jerusalem beset (verse 40-50). Hierdie Antichris-koning, of meer waarskynlik `n godsdienstige figuur wat met hom verbind word, is die finale "gruwel." Daniël 12 vertel verder: "...en dit sal 'n tyd [vanaf die tyd van die inval deur die koning van die Noorde] van benoudheid [vir Israel] wees..." (vers 1; outeur se parafrasering). Dus is die teenwoordigheid van die "gruwel" wwar "dit nie behoort nie" (Markus 13:14) `n soort sneller-gebeurtenis vir die Groot Verdrukking.

In Mattheus 24 waarsku Jesus Sy dissipels teen diegene wat valslik sal voorgee dat Sy koms op `n onafgekondigde wyse – selfs heimlik – kan plaasvind (verse 23-26). Hierdie punt op sy eie ontmasker die wegrapingsteorie.

Tot die teendeel benadruk Hy dan dat Sy koms dramaties sigbaar sal wees: "Want soos die weerlig [ook "bright shining," (Strong's) by wyse van analogie – soos daglig] uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms [parousia] van die Seun van die mens wees" (vers 27). Jesus beskryf Sy koms – Sy Parousia – as `n enkele, hoogs sigbare gebeurtenis, so onmiskenbaar soos die son se beweging deur die hemelruim. Dit is belangrik om daarop te let dat Jesus nooit Sy koms as `n twee-fase gebeurtenis beskryf nie. Daar is net eenvoudig nie `n "drive-by" wederkoms wat gevolg word deur `n openbare tweede koms nie. Daar is slegs een Parousia. Hierdie feit bewys die gedagte van `n klandestiene wederkoms verkeerd.

Jesus se volgende stelling is `n sleutel. Hy sê, "En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word" (vers 29). As ons hierdie vers met Openbaring 6:12-17 saamlees, sien ons dat hierdie die sesde seël is – die hemelse tekens wat die jaarlange Dag van die Here aankondig. Op hierdie presiese tydstip is Jesus se terugkeer duiudelik vir die hele mensdom – want "dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid" (Mat 24:30).

Wat gebeur nog na die Groot Verdrukking? Die opstanding van die heiliges! Let op wat Jesus sê gebeur tydens Sy Parousia: "En Hy sal Sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal Sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan" (Mat 24:31). Daniël 12 het dieselfde tydsberekening: vers 1 kondig die Groot Verdrukking aan wat in vers 2 gevolg word deur die opstanding!

En tog dring wegrapingsteoretici daarop aan dat die wegraping – en gevolglik die opstanding – voor die groot Verdrukking plaasvind. Soos ons sal sien, is dit die tydsberekening van die opstanding wat fataal is vir die wegrapingsteorie.

So, hier is Jesus se sleutel-tydlyn:

1) Die teken van die "gruwel van die verwoesting" vind plaas;
2) Die Groot Verdrukking begin;
3) Dadelik na die Verdrukking is daar hemelse tekens;
4) Jesus se Parousia vind plaas – Sy sigbare wederkoms;
5) Gepaardgaande met `n harde trompetgeluid, vind die opstanding van die heiliges plaas.

Maar kom Paulus se lering ooreen met Jesus se tydlyn?

Paulus se Presiese Tydlyn

Paulus en Jesus is in algehele harmonie met mekaar. In II Thessalonisense 2 maak Paulus dit duidelik dat die "vereniging" van die heiliges met Jesus nie sal plaasvind voor die "mens van sonde" nie eers op die toneel verskyn het nie. Hierdie bose indiwidu – duidelik geidentifiseer as Daniël se "koning van die Noorde" of die Antichris – sal vernietig word deur die verskyning (Parousia) van Jesus se wederkoms (vers 8). Paulus sê dus onomwonde dat die opstanding nie kan plaasvind voordat die Antichris gekom het en die Groot Verdrukking plaasgevind het nie. Dit is presies wat Jesus gesê het.

In sy skrywe aan Korinthe wys Paulus daarop dat daar `n volgorde is waarvolgens God mense uit die dood opwek. Almal sal lewend gemaak word, "maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus [wat reeds plaasgevind het], daarna die wat aan Christus behoort by Sy koms [parousia]" (1Kor 15:23). Let daarop dat die wat aan Christus behoort – beide die wat lewe en die wat in die graf is – die ewige lewe ontvang met Sy Parousia, Sy enkelvoudige, sigbare verskyning in heerlikheid.

Paulus laat duidelik nie ruimte vir `n geheime, onafgekondigde Parousia nie.

Hy gaan voort in verse 51-52: "Kyk, ek deel julle 'n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap [`n versinnebeelding van die dood] nie, maar ons sal almal verander word, in 'n oomblik, in 'n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word." Paulus sê dat nie elke Christen dood sal wees, in die graf, wanneer Jesus terugkeer nie. Hierdie lewende heiliges sal verander word in onsterflike geestelike wesens, "by die laaste basuin." Maar net voor dit gebeur, sal die wat in Christus gesterf het, die ontslape heiliges, opgewek word tot onsterflike geestelike lewe.

Hierdie gebeurtenis vind plaas met `n harde trompetgeluid – net soos Jesus gesê het in Mattheus 24:31. Paulus sê spesifiek dat dit die laaste basuin is wat weerklink. Ons sien in Openbaring 8 dat daar "sewe basuine" opeenvolgend weerklink as deel van die aftelling na Jesus se Parousia. Die plae van die Dag van die Here is trouens georganiseer rondom sewe "basuine." Die 7de basuin – die laaste basuin – weerklink in Openbaring 11.  Hier, in verse 15-18, sien ons `n beskrywing van Jesus wat Sy reg om oor die wêreld te regeer, opneem. In vers 18 sien ons dat die "tyd van die dode" aangebreek het – die tyd waarop God se dienaars en heiliges beloon word!

Hierdie kan slegs die opstanding van "die wat in Christus gesterf het" wees – met Jesus se Parousia – presies soos Paulus gesê het, met die laaste basuin!

Paulus Ontmasker die Wegraping!

Kom ons kyk nou na I Thessalonisense 4 – wat die sleutel skrifgedeelte is wat deur wegrapingsteoretici gebruik word. Paulus sê reguit dat dit sy begeerte is dat die dissipels ingelig moet wees aangaande die toekoms van die wat in Christus gesterf het (vers13). In vers 14 verseker hy die gelowiges van die werklikheid van die opstanding deur Christus. Dan maak hy `n belangrike stelling deur te sê, "ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie" (vers 15).

In ooreenstemming met Mattheus en Openbaring sê hy dan dat Jesus se hoogs sigbare Parousia gepaard sal gaan met die geklank van `n basuin – en die wat in Christus gesterf het eerste sal opstaan (vers 16). Daarna, in vers 17, skryf hy dat die heiliges "wat in die lewe oorbly, saam met hulle [diegene in die opstanding] in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees."

Volgens die voorstanders van die wegraping moet die wegraping plaasvind voor die Groot Verdrukking – wat beteken dat die heiliges in die hemel sal wees vir drie-en-`n half jaar (of sewe jaar). Maar hulle kan nie by die feit verby kom dat die opstanding van die heiliges direk gekoppel is aan Jesus se openbare Parousia nie en dat beide plaasvind na die Groot Verdrukking – nie daarna nie.

Soos vroeër hierin vermeld, beweer sommige wegrapingsteoretici dat slegs lewende Christene "weggeraap" word. Vir hulle beteken dit dus dat die opstanding na die Verdrukking kan plaasvind – met Jesus se "tweede" Parousia. Maar Paulus maak hierdie teorie `n onmoontlikheid. Hy stel dit duidelik dat daardie heiliges wat lewe met Jesus koms, die wat dood is, nie voor sal wees nie. In werklikheid sal die wat in Christus gesterf het, eerste opstaan. Daar is dus geen manier waarop lewende Christene na die hemel weggeneem sal word terwyl die wat in Christus gesterf het vir drie-en-`n-half jaar (of sewe jaar) in hulle grafte bly nie.

Die feit is dat diegene wat die wegrapingsteorie verkondig, `n "geheime koms" van Christus, drie-en-`n-half jaar (of sewe jaar), voor Sy geprofeteerde Parousia, inlees in Paulus se skrywes – ten spyte van die feit dat niks in die Nuwe Testament ondersteuning bied vir die idee dat Jesus twee wederkomste het nie.

Ter opsomming, hier is die sleutelpunte ter weerlegging van die wegrapingsteorie:

1) Jesus se koms sal nie "nou enige dag" gebeur sonder waarskuwing nie. Terwyl dit waar is dat Jesus se wederkoms, net soos tydens Noag se vloed, baie in die wêreld onverhoeds sal betrap (Matt. 24:37), gee die Nuwe Testament vir Christene verskeie tekens wat die nabyheid van Sy Parousia aandui. Die sleutelteken om voor uit te kyk is die verskyning van "die gruwel van die verwoesting" of Antichris (Matt. 24:15). Dan volg die Groot Verdrukking (vers 21), vir drie-en-`n-half jaar (nie sewe nie) – dan volg die hemelse tekens (vers 29). Op daardie tydstip sal Jesus se Parousia op hande wees.

2) Daar is slegs een Parousia – nie twee nie. Dit sal duidelik sigbaar en skouspelagtig wees – niemand op die aarde sal dit miskyk nie (Matt. 24:30). Openbaring 1:7 sê dat elke oog Hom sal sien by Sy terugkeer. Jesus waarsku trouens Sy dissipels teen diegene wat valslik sal beweer dat Sy wederkoms in die geheim kan plaasvind (vers 26). Hierdie punt, op sy eie, ontmasker duidelik die wegrapingsteorie.

3) Jesus se Parousia lei onmiddelik tot die opstanding van "die wat in Christus gesterf het" en tot die verandering van lewendige Christene na gees (Matt. 24:31; I Thess. 4:16-17). Verdermeer vind beide die Parousia en die opstanding plaas na die Groot Verdrukking (Matt. 24:29). Daar word derhalwe geen ruimte gelaat vir `n voor-Verdrukking wegraping nie.

In I Thessalonisense 4 maak Paulus dit duidelik dat Jesus se Parousia `n eenmalige gebeurtenis is waartydens die opgestane (of veranderde) heiliges van alle tye Hom "in die lug" tegemoetgaan sal gaan om Hom uiteindelik te vergesel na Sy finale bestemming in Jerusalem om die Koninkryk van God op te rig.

Gaan God Christene Beskerm Teen die Groot Verdrukking?

As daar dan geen voor-verdrukking "geheime wegraping" is nie, beteken dit dan dat Christene die gruwels van die Groot Verdrukking sal moet verduur? Daar is ongelukkig geen maklike antwoord op hierdie vraag nie. Terwyl sommige spekuleer oor die moontlikheid dat God die hele Kerk in `n fisiese "plek van veiligheid" sal beskerm, is die Bybel redelik vaag oor die idee. Uiteindelik is sulke leringe streng spekulatief en moet nie as dogma voorgehou word nie.

Natuurlik kan God die wat aan Hom behoort beskerm – te eniger tyd en plek (Ps. 91:1-8). En Jesus gee hierdie vermaning wat `n belofte inhou: "Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan" (Luk 21:36). God is inderdaad meer as gewillig om ons te beskerm – as ons waardig bevind word.

Maar onthou ook die waarskuwings wat Jesus gegee het aangaande einttyd toestande: "Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam... Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word" (Matt. 24:9;13). En ook, "En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word" (Mar. 13:13).

Hierdie skrifgedeeltes suggereer hoegenaamd nie universele beskerming van die Kerk in die laaste dae nie.

Hou ook in gedagte dat daar nog `n martelaarskap van heiliges moet kom. "En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is [lank terug] ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het. En hulle het [figuurlik] met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners [boses] van die aarde nie? En aan elkeen van hulle is wit klere gegee [versinnebeelding van die sekerheid van hulle toekomstige opstanding tot ewige lewe] ; en aan hulle is gesê dat hulle nog 'n klein tydjie moes rus [in die graf] totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees " (Opn. 6:9-11).

Ten minste sommige Christene sal duidelik nog martelaarskap in die gesig moet staar. Daar is dus geen waarborg van fisiese beskerming vir die hele Liggaam van Christus nie. Miskien is die beste waarvoor mens kan hoop om, soos Jesus gesê het, waardig geag te word om te ontvlug van die gruwels van die laaste dae van hierdie era.

__________________________________

Eindnote

1) Volgens hoofstroom Protestantse denke het die "heengegane siel" dadelik hemel toe gegaan op die oomblik van die dood; dus is die hele gedagte van `n opstanding op `n latere tydstip, onnodig. Maar die opstanding van die regverdiges met Jesus se wederkoms  is `n hooftema van die Nuwe Testament – so, Protestante moet, op een of ander manier, daarmee handel.  Soos reeds gesê, is hulle standaard antwoord dat selfs "heengegane siele" op een of ander tydstip, verenig moet word met hulle nuwe "geestelike liggame" via die opstanding.

Maar met watter doel voor oë? Dit is asof slegs die liggaam in die graf wag vir die opstanding met Jesus se wederkoms; die persoon, steeds bewus as `n soort "ontliggaamde gees," is lankal hemel toe. Trouens, watter soort liggaam het jy nodig vir lewe in die hemel? En hoe sal hierdie nuwe "geestelike liggaam" `n verbetering van hulle huidige "geestelike bestaan" wees? Die feit is dat hierdie opstanding van die liggaam – teenoor die opstanding van die persoon – Protestantisme se poging is om `n swympie van die belangrikheid van die opstanding, wat so duidelik deur die Bybel geleer word, te probeer behou. Maar dit is slegs `n opstanding van liggame – nie werklike mense nie!

In I Kor. 15 gooi Paulus hierdie vals idee vinnig omver. Hy wys dat ewige lewe – beskryf as onverganklik of onsterflik, slegs gegun word deur die opstanding met Jesus se wederkoms. Ons sal inderdaad lewend gemaak word by Sy koms (verse 22-23).

Met ander woorde, mens kan nie lewe (van enige aard) anderkant die graf besit, behalwe deur die opstanding nie. Volgens Paulus is dit juis deur die opstanding wat sterflikheid verruil word vir onsterflikheid, verganklikheid verruil word vir onverganklikheid, en die dood self verruil word vir lewe (verse 52-54).  Hy skryf dat "hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word" – beklee deur die opstanding.  Hierdie gedeelte maak geen sin as die heengegane persoon reeds onsterflikheid en onverganklikheid in die hemel het nie.

In vers 42 sê Paulus die dode word "gesaai in verganklikheid" – begrawe in die grond. Dan, met die opstanding, word hulle "opgewek in onverganklikheid" – lewe gegee.

Dit is duidelik dat slegs die opstanding onsterflikheid verleen.  Hoe kan Paulus se woorde dan versoen word met die populêre opvatting dat die heengegane dooies alreeds onsterflikheid – ewige lewe – in die hemel besit?

As, soos Paulus aantoon, die opstanding werklik `n opstanding uit die dood is – van een wat tot lewe opgewek word – hoe kan dit dan ook die verlening van `n "geestelike liggaam" aan `n reeds-lewende heengegane persoon wees? Sal dit dan regtig, enigsinds `n opstanding wees in terme van Hebreeuse denke?

Regdeur die Bybel word die dood as slaap beskrywe. Die wat in Christus gesterf het word altyd voorgestel as synde aan die slaap te geraak het en as synde in hierdie toestand te bly tot en met die opstanding. Dit is dus nie verrassend nie dat die Nuwe Testamentiese werkwoord wat gebruik word om die handeling van opwekking uit die dood te beskryf, die gewone woord is wat wakker maak uit die slaap beskryf. Watter moontlike sin kan gemaak word van die wakker maak van `n persoon wat alreeds ten volle by sy bewussyn in die hemel is?

Die bybelse teks kan op geen manier uitgelê word om te beteken dat die opstanding `n alreeds bewustelike, lewende "siel" met sy liggaam verenig nie. Ons staar trouens `n onversoenbare teenstelling in die gesig as die wat in Christus gesterf het alreeds, voor die opstanding, lewend gemaak is.

Die probleem is natuurlik dat die hemel glad nie die loon is van die "gereddene" is nie en daar is ook geen "siel" wat anderkant die dood lewe nie. Vir `n gedetailleerde studie van hierdie onderwerp, vra asseblief `n kopie van What Happens to the Dead?  en Are Enoch and Elijah in Heaven?, aan.

__________________________________

2) Die idee van `n sewe jaar Verdrukking spruit voort uit `n spesifieke siening van Daniël se 70-week profesie. Nietemin wys verskeie skrifgedeeltes daarop dat hierdie tydperk, ook bekend as Jakob se "tyd van benoudheid," in werklikheid drie-en-`n-half jaar duur. Die Antichris se heerskappy duur 42 maande (drie-en-`n-half jaar) (Openbaring 13:5), wat korreleer met die "tye van die nasies" – hulle oorheersing van Israel (Openbaring 11:2; Lukas 21:24). Insgelyks is Daniël se "tyd van benoudheid" (Dan. 12:1) oor die heilige volk (Israel), drie-en-`n-half jaar (vers 7; sien ook Dan. 7:25).

Books