By Philip Neal

Vertaal deur Helmut Burger

[Up]

pdfIcon - Transcript

Inleiding

Hoofstroom-Christendom dring daarop aan dat die hemel die loon is van die "gereddene." "Sleutelbewystekste" wat dan aangehaal word om hierdie siening te ondersteun, betrek onder andere die patriarg Henog en die profeet  Elía. Ons lees in Genesis 5:24: "En Henog het met God gewandel; en hy was daar nie meer nie, want God het hom weggeneem." Daar word dan aangeneem dat dit beteken dat God Henog hemel-toe geneem het. Wat  Elía betref, staan daar in II Konings 2:11: "En terwyl hulle aldeur loop en spreek, kom daar meteens 'n wa van vuur met perde van vuur wat skeiding tussen hulle twee maak; en Elía het in die storm na die hemel opgevaar." Hierdie skrifgedeelte word dan op soortgelyke wyse geïnterpreteer as betekenende dat Elía na die hemel van God se troon geneem is vir sy ewige loon. Elía se verskyning in die visioen van Christus se gedaanteverwisseling of "transfigurasie," soos beskryf in Matthéüs 17:3, dra verder by tot die idee dat dié profeet nou in die hemel is.

En tog het Jesus gesê: "En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is." (Joh. 3:13).

Hoofsaaklik gebaseer op hierdie skrifgedeeltes, is dit `n hoofleerstelling van Protestantisme dat die hemel die loon van die "gereddene," is. Maar, is dit waar? Wat leer die Bybel eintlik oor hierdie onderwerp? Was Henog en Elía inderdaad op misterieuse wyse na hulle "loon" in die hemel geneem? Indien nie, waar is hulle? En, as hulle in werklikheid nie "hemel-toe" is nie, hoe raak dit die populêre leerstelling dat die hemel die loon van die "gereddene" is?      

Elía – Geneig tot Skielike Verdwynings

Elía was 'n sleutelprofeet van God gedurende die heerskappy van die berugte bose Agab, koning van die noordelike huis van Israel. Elía het Agab teë gegaan in sy pogings om Israel in bykans volslae afgodsaanbidding vasgevang te hou. Gevolglik was Elía voortdurend blootgestel aan vervolging en 'n martelaarsdood. Soos ons egter sal sien, het God Elía beskerm wanneer dit nodig was.

'n Skrifgedeelte in I Konings 18 vertel van 'n toevallige ontmoeting tussen Elía en een van Agab se hoofdienaars, Obádja, (wat self  'n godvresende man was). "Terwyl Obádja op pad was, kom Elía hom meteens tegemoet; en toe hy hom herken, val hy op sy aangesig en vra: Is dit u, my heer Elía? En hy sê: Dit is ek; gaan sê aan jou heer: Elía is daar" (verse 7 – 8). Agab was op soek na Elía, en laasgenoemde het nou beplan om dié bose koning te konfronteer (vers 2). Maar Obádja was skrikkerig. Dit het in die verlede gebeur dat, wanneer daar gesê is dat Elía opgespoor is, hy skielik verdwyn het – en hy nêrens gevind kon word nie. Wanneer dit dan gebeur het, het Agab die manier gehad om sy woede op die boodskapper uit te haal. Gevolglik, Obádja se kommer, toe hy Elía antwoord: "Maar hy vra: Wat het ek gesondig, dat u u dienaar oorgee in die hand van Agab om my om die lewe te bring? So waar as die HERE u God leef, daar is geen nasie of koninkryk waar my heer nie heen gestuur het om u te soek nie; en as hulle sê: Hy is nie hier nie—dan laat hy die koninkryk en die nasie sweer dat hulle u nie kon vind nie. En nou beveel u: Gaan sê aan jou heer: Elía is daar!" (verse 9 – 11).

Obádja was bang dat Elía weer sou verdwyn en dit hom sy lewe sou kos. "As ek nou van u af weggaan en die Gees van die HERE u wegneem—ek weet nie waarheen nie—en ek kom om Agab berig te bring en hy vind u nie, dan sal hy my doodmaak; en u dienaar vrees die HERE van sy jeug af" (vers 12).

Let daarop dat Obádja duidelik bewus was van Elía se "verdwynings" in die verlede, en hy  bang was dat God nou weer vir Elía na 'n onbekende bestemming sou wegvoer. Dit is duidelik dat Elía verskeie kere in die verlede op 'n wonderbaarlike wyse deur God "weggeneem"  was – geherlokeer was na 'n veilige plek. Hoekom? Om die voortydige dood van Elía aan die hand van bose mense soos Agab te verhoed. God het Elía telkens na 'n veilige plek "vervoer" vanwaar hy sy werk as profeet van God kon voortsit – ten minste totdat sy lewe weer bedreig is.

Was Elía na God se Troon in die Hemel Geneem?

Mettertyd moes Elía sy profetiese amp aan Elísa oordra. Ons lees in II Konings 2: "En nadat hulle deur was, sê Elía vir Elísa: Begeer wat ek vir jou moet doen, voordat ek van jou af weggeneem word. En Elísa antwoord: Laat dan tog 'n dubbele deel van u gees op my kom. En hy sê: Jy het 'n harde saak begeer. As jy my sien wanneer ek van jou af weggeneem word, laat dit dan so met jou wees. Maar so nie, dan sal dit nie wees nie" (verse 9 – 10). Elísa het verstaan wat Elía met "weggeneem word," bedoel – want, Elía is al verskeie kere in die verlede "weggeneem" na 'n ander plek toe geherlokeer. Let op wat verse 11 en 12 sê: "En terwyl hulle aldeur loop en spreek, kom daar meteens 'n wa van vuur met perde van vuur wat skeiding tussen hulle twee maak; en Elía het in die storm na die hemel opgevaar. En Elísa het dit gesien en geroep: My vader, my vader, wa van Israel en sy ruiters! En toe hy hom nie meer sien nie, het hy sy klere gegryp en dit in twee stukke geskeur."

Ons sien dat Elía in die hemel opgevaar het – tot buite sig van Elísa. Maar was hierdie die hemel waar die troon van God is? Was Elía vir goed weg – weg na sy ewige "hemelse loon?" Wat het die ander profete van sy tyd, manne van God, gedink wat van hom geword het toe Elísa aan hulle vertel wat gebeur het?

Verse 16 – 17 verskaf die antwoord: "en vir hom gesê: Kyk, hier is by u dienaars vyftig kragtige manne; laat hulle tog u heer gaan soek, of nie miskien die Gees van die HERE hom opgeneem en hom op een van die berge of in een van die dale gewerp het nie. Maar hy het beveel: Stuur hulle nie!  Maar toe hulle tot vervelens toe by hom aanhou, sê hy: Stuur. Daarop stuur hulle vyftig man uit, en dié het drie dae lank gesoek, maar hom nie gekry nie."

Dit is uit hierdie skrifgedeelte duidelik dat niemand gedink het Elía was deur God tot by die troon van God weggevoer nie, maar wel na 'n ander aardse, fisiese plek -  op een van die berge of in een van die dale. Dit het klaarblyklik meermale vantevore gebeur en hulle het verwag dat Elía uiteindelik weer tevoorskyn sou kom, soos in die verlede.

Hierdie keer egter het Elía se bestemming 'n geheim, 'n misterie, gebly. Maar, omtrent tien jaar later, word 'n brief, deur Elía geskryf, aan Koning Joram van Juda, afgelewer: "Toe kom daar 'n brief van die profeet Elía by hom aan om te sê: So spreek die HERE, die God van u vader Dawid: Omdat u in die weë van u vader Jósafat en in die weë van Asa, die koning van Juda, nie gewandel het nie"  (2 Kronieke 21:12) – afdoende bewys dat Elía nié na die hemel waar God se troon is, waar God self is, weggeneem was nie maar na 'n ander plek hier op aarde. Trouens, Elía het sy wakende besorgdheid oor Israel en Juda voortgesit – maar van 'n ander, veilige plek – en die stilte eers tien jaar later verbreek deur hierdie brief aan Koning Joram te skryf. En, soos wat dit bestem is vir elke mens, (Heb. 9:27), het Elía ook uiteindelik gesterf – maar daar word nie vir ons gesê wanneer, óf, waar hy begrawe is nie.

Is Elía in die hemel? Soos reeds hierbo uit Johannes 3:13 aangehaal, "En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is. En tog lees ons, "en Elía het in die storm na die hemel opgevaar." Hoe kan dit        wees – wat beteken dit dan?

Die Bybel Praat van Drie Hemele

Die meeste studente van die Bybel sal verras wees om te hoor dat die Bybel van drie hemele praat. Die eerste is die atmosfeer om die aarde (Gen. 1:8). Let daarop dat die voëls in hierdie hemel vlieg (vers 20). Die tweede hemel is dit wat ons die ruimte noem, daar waar die planete en sterre is (Gen. 15:5). Die "derde hemel" is waar God se troon is (II Kor. 12:2).

Elía was ongetwyfeld in die lug "weggevoer," die atmosfeer waar voëls, (en vliegtuie), vlieg – die eerste hemel – en deur 'n "wa van vuur" vervoer na 'n ander plek. Hy was egter beslis nie na die "derde hemel" wat die ligging van God se troon is, weggevoer nie.

Die profeet Esegiël het 'n soortgelyke ondervinding gehad – om deur 'n soortvan "wa" van een plek na 'n ander plek getransporteer te word (Eseg. 3:11 - !5). In vers 14 staan daar, " het die Gees my opgehef en my weggeneem." Uit vers 15 blyk dat hy onmiddelik geherlokeer is na 'n gebied waar sy mede-ballinge hulle bevind het.

Nog 'n voorbeeld van dieselfde fenomeen, vind ons in Handelinge waar die evangelis Fillipus, net nadat hy die hofdienaar gedoop het, op wonderbaarlike wyse na 'n dorp, Asdod, verskeie kilometers verder, geherlokeer is: "En toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus skielik weggevoer, en die hofdienaar het hom nie meer gesien nie, want hy het sy weg met blydskap gereis.Maar Filippus is in Asdod gevind. En hy het die land deurgegaan en die evangelie verkondig in al die stede, totdat hy in Cesaréa gekom het" (Hand. 8:39 – 40).

Dit word dan duidelik dat, wanneer die apostel Johannes skryf dat, "niemand het opgevaar in die hemel nie,"  hy na die derde hemel verwys, die woonplek van God. Maar soos ons herhaaldelik nou gesien het, het God verskeie van Sy dienaars deur die eerste hemel – die lug/atmosfeer -  laat vervoer ten einde hulle te herlokeer.

Wat die verskyning van Elía in die die visioen van Christus se gedaanteverwisseling of "transfigurasie," soos beskryf in Matthéüs 17:3 betref, was dit presies net dit – 'n visioen van die heerlikheid wat Elía  en Moses in die nog toekomstige Koninkryk van God met Jesus Christus sal deel, soos ook die res van die heiliges. Slegs Jesus is uit die dood uit opgewek tot daardie heerlikheid; soos die res van die heiliges moet Elía  en Moses in hulle grafte vir die eerste opstanding wag – wat plaasvind met Christus se wederkoms (Kol. 1:18; I Kor. 15:23).

Het God Henog na die Hemel "Weggeneem?"

Met wat ons geleer het uit die geval van Elía, is ons nou  beter daartoe instaat om Henog se misterieuse verdwyning te verstaan. "En Henog het met God gewandel; en hy was daar nie meer nie, want God het hom weggeneem" (Gen. 5:24). [Let asseblief daarop dat 'n letterlike, direkte vertaling van die Hebreeus soos volg lees: "En Henog het met God geloop en hy was nie – want God het hom gevat." Die vertaling, "en hy was daar nie meer nie," soos dit in die Afrikaanse Ou vertaling verskyn en hierbo aangehaal, is derhalwe ietwat misleidend. Die Hebreeus sê eenvoudig net, "God het hom gevat en hy was nie gevind nie].

Ons vind in die brief aan die Hebreërs die volgende stelling: "Deur die geloof is Henog weggeneem om die dood nie te sien nie; en hy is nie gevind nie, omdat God hom weggeneem het; want voor sy wegneming het hy getuienis ontvang dat hy God behaag het" (Heb. 11:5).

Dit is veral hierdie vers in die Bybel wat deur diegene wat glo dat die hemel die loon van die "gereddene" is, gesien word as onomstootlike stawing vir hulle siening. Henog het met God gewandel en het die getuienis ontvang dat hy God behaag het en gevolglik, het God hom "geneem" en  hom "weggevoer" na sy hemelse loon sodat hy die dood "nie hoef te smaak nie." Só lei die argument. Maar, is dit werklik wat die Bybel leer?

Hierdie verse uit Hebreërs sê duidelik dat Henog "is nie gevind nie" – wat eenvoudig beteken dat sy ligging of standplaas onbekend was. Dit sê egter nie, suggereer nie eens, dat hy na die derde hemel, na God se woonplek, geneem is nie. Hierdie voorveronderstelling word inderwaarheid in die teks "ingelees" want die teks sê dit nie. Soos ons hieronder sal sien, was Henog, net soos Elía, eenvoudig deur God na 'n ander aardse plek geneem.

Die Griekse woord wat as "weggeneem" vertaal is, is met-at-ith'-ay-mee [Strong's: vanaf G3326 en G5087; om oor te dra, dit is, (letterlik) vervoer]. Vine's Expository Dictionary of Biblical Words (1985) sê die term beteken "to transfer to another place." Dieselfde woord word in Handelinge 7:16 as "oorgebring" vertaal – waar dit beskryf hoe Jakob se beendere deur die Israeliete uit Egipte uit saamgebring ["oorgebring"] is en herbegrawe is. Daar is absoluut niks omtrent hierdie Griekse term of die konsep van "herlokering" wat eens skimp dat mens, wanneer jy doodgaan, hemel-toe, na God se troon toe, gaan nie.

Die verdere vraag is natuurlik wat bedoel word met die woorde, "om die dood nie te sien nie." Impliseer hierdie frase nie dalk dat hy hemel-toe is om sy ewige loon te ontvang nie?

Henog – Beskerm Teen Voortydige Dood  

Laat ons eerstens net verstaan dat Henog mettertyd inderdaad gesterf het. Hebreërs 11 staan alom bekend as die "geloofshoofstuk." Dit begin met die definisie van geloof en gaan dan voort en lys vanaf Abel tot Sara voorbeelde van mense wat deur hulle geloof "getuienis ontvang" het. Dit sluit dan af met, "In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was" (vers 13).

Henog is ingesluit by "het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry."  Hoe rym verse vyf en dertien dan met mekaar?

U sal onthou uit wat ons hierbo omtrent Elía gelees het, dat hy verskeie kere deur God geherlokeer  was, hoofsaaklik vir sy eie veiligheid. Kan dit ook die rede wees waarom God Henog "gevat" het en hy daarna "nie gevind" kon word nie? Ons lees in die boek van Judas dat Henog eintlik 'n profeet van God was: "En Henog, die sewende van Adam af, het ook teen hulle geprofeteer en gesê: Kyk, die Here het gekom met sy heilige tien duisendtalle, om gerig te hou oor almal en al die goddelose mense onder hulle te straf oor al hulle goddelose werke wat hulle goddelooslik gedoen het, en oor al die harde woorde wat die goddelose sondaars teen Hom gespreek het" (verse 14 – 15; sien ook Luk. 1:70 in die algemeen).

Hierdie was kragtige woorde teen die goddelose mense – kragtig genoeg om homself die argwaan en selfs die dood op die hals te haal, (vergelyk maar net hoe gretig die Fariseërs telkens was om Christus dood te maak wanneer hy hulle gekonfronteer het; die moord op Johannes die Doper; en Jesus se beskuldigings teen hulle verwysend na die vervolging van God se profete deur hulle Vaders  – Matt. 5:12, 23:30-37; Luk. 11: 47-50, 13:34) Henog het met God gewandel, menend dat hy God se leringe gehoorsaam het en in Sy lewenswyse gewandel het. Dit blyk dat hy die sondaars van sy tyd met die waarheid gekonfronteer het, hulle gewaarsku het om hulle óf te bekeer óf die oordeel van God te verwag. Soos wat dit die geval was met omtrent ál God se profete, het Henog ongetwyfeld die dood meermale in die gesig gestaar. Uiteindelik, sodat Henog die dood nie [voortydig] sou sien nie, is hy weggeneem - met-at-ith'-ay-mee – na 'n ander plek waar hy sy lewe enduit in veiligheid geleef het.

Daar is nooit weer van Henog gehoor nie en is dit heeltemal moontlik dat hy nog vir baie jare, tot sy natuurlike dood toe, geleef het: "So was dan al die dae van Henog drie honderd vyf en sestig jaar" (Gen. 5:23).

Wat belangrik is, is dat Henog, soos die ander gelowiges op die lys in hoofstuk 11 van Hebreërs, dood is sonder om die beloftes te ontvang. As, soos wat hoofstroom "Christene" aandring, die hemel die loon van die "geredde persoon" is – waarom is die regverdige Henog hierdie loon dan ontsê? Let op wat vers Hebreërs 11:13 sê: "In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit [figuurlik] uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was [wagtend op 'n toekomstige koninkryk]." Hierdie gedagte word voortgesit in verse 39 tot 40: "En alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het, het hulle die belofte nie verkry nie, omdat God iets beters oor ons beskik het, sodat hulle nie sonder ons volmaak sou word nie."

Henog en die ander gelowige manne en vroue van Hebreërs 11 het geen verwagtinge gehad om na hulle dood hemel-toe te gaan nie! Inteendeel, hulle het vorentoe gekyk, uitgesien na die geprofeteerde aardse koninkryk waarin hulle ewige lewe sou beërwe – maar nie voor daardie heiliges wat ná hulle sou kom nie! Die Ou Testamentiese regverdige patriarge en profete moet in hulle grafte wag totdat Christus terugkeer wanneer alle heiliges – insluitend almal van die eerste eeu tot vandag toe – hulle ewige beloning sal ontvang deur saam uit die dood opgewek te word tot onsterflikheid, in die eerste opstanding.

Die Hoop van die Opstanding

Soos ons in Johannes 3:13 gesien het, "niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is." Petrus sê dat selfs Dawid "het nie in die hemele opgevaar nie" (Hand. 2:34). Op 'n latere tydstip skryf Petrus dat die patriarge "slaap" (II Pet. 3:4). Hulle is nie in die hemel nie maar "slaap" in hulle grafte.

Op dieselfde manier skryf die apostel Paulus dat die opgestane Christus "die eersteling geword van die wat ontslaap het" (I Kor. 15:20). Paulus gee dan die versekering dat almal wat gesterf het "lewend gemaak" sal word (vers 22), "maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms" (vers 23). Tussen Jesus se opstanding en die tydstip van Sy wederkoms, het "die wat in Christus gesterf het" (I Thess. 4:16), "in Jesus ontslaap" (vers 14), dit is, hulle behoort aan Hom selfs terwyl hulle in die graf is.

Die Nuwe Testamentiese kerk het, onder leiding van die oorspronklike apostels, duidelik geleer dat geen mens, buiten Christus self, uit die dood opgewek is tot onsterflikheid nie. Alle heiliges wat "ontslaap" het in Christus, wag op Sy heerlike terugkeer, op welke tydstip hulle opgewek sal word tot onsterflikheid. Trouens, Paulus maak die moedige maar sterk uitspraak dat, tensy daar 'n toekomstige opstanding is, "dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore" (I Kor.15:18). Dit sluit onteenseglik enige sogenaamde "hemelse loon," soos verkondig deur hoofstroom Christendom uit.

Die feit is dat die Skrif ondubbelsinnig ewige lewe koppel aan opstanding uit die graf en nie met "hemel-toe" gaan nie. Onsterflikheid is 'n gawe wat gegee sal word aan diegene wat aan Christus behoort tydens die eerste opstanding (Openb. 20:4-6) – nie voor dit nie.

Aan die kern van hierdie kwessie is die onbesonne maar gewilde idee in Christendom dat mense 'n "onsterflike siel" het wat die liggaam verlaat by die dood. (Met slegs 'n greintjie navorsing kan die leser self vasstel dat die konsep van die "onsterflike siel" die produk is van vroeë Griekse filosofie.) Hierdie siel, so word voorgehou, gaan óf  hemel óf "hel" toe. In teenstelling hiermee definieer die Skrif egter die "siel" as die hele persoon – 'n lewende wese – nie as een-of-ander innerlike geestelike wese vasgevang in in 'n fisiese liggaam nie. Dit is hoekom Genesis 2:7 nie sê dat die eerste mens, Adam, 'n siel gehad het nie – hy was 'n siel – het letterlik 'n lewende siel geword of het 'n lewende wese geword. Die profeet Esegiël het geskryf, "Die siel wat sondig, dié moet sterwe" (Eseg. 18:20). Dus – die siel – die lewende persoon – kán tot niet gaan.

Jesus het gewaarsku: "En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel [lewe] nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel [lewe]  sowel as die liggaam kan verderwe in die hel [Gehenna – vuur]" (Matt. 10:28). Baie mense verstaan hierdie gedeelte as menend dat die liggaam en die siel afsonderlike entiteite is. Maar soos ons gesien het, is die siel die lewende wese; wanneer 'n mens doodgaan, kom sy siel – sy lewe – tot 'n einde. Maar deur 'n opstanding sal God uiteindelik die lewens van almal wat gesterf het, herstel (I Kor. 15:21-26; Openb. 20:5, 12-14). Wat Jesus in werklikheid in Mattheüs 10 sê, is dat as God iemand in die vuur van Gehenna vernietig, daardie persoon – nie net die fisiese liggaam nie, maar die lewe self – heeltemal tot niet sal gaan sonder hoop op 'n opstanding.

Weereens, dit is die opstanding wat die sleutel is tot mens se ewige bestemming. Henog en Elía, wat "in die geloof gesterf het," slaap in hulle grafte. Net soos die geval is met almal wat dood is, het hulle geen bewussyn van die verloop van tyd nie – want "die dooies weet glad niks nie," en, "daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie" (Pred. 9:5, 10). Soos die heiliges wat hulle na die graf gevolg het, sal hulle opgewek word en onsterflikheid geskenk word met Jesus se terugkeer (IKor. 15: 51-54; Thess. 4: 13-17).

Hierdie boekie is gebaseer op die oorspronklike werk deur Philip Neal van die Christian Biblical Church of God, Post Office Box 1442 Hollister, California 95024 – 1442

www.cbcg.org
www.churchathome.org
www.theoriginalbiblerestored.com

Books