Vertaal deur Helmut Burger


Voorwoord

Hierdie boekie is oorspronklik in Engels geskryf deur Fred R. Coulter, leraar van die Christian Biblical Church of God, Hollister, Kalifornië, VSA.

Wat hier onder volg is nie `n letterlike vertaling nie maar eerder `n verwerking. Die rede hiervoor is eenvoudig omdat die oorspronklike artikel deur die outeur geskryf is vir die Engelssprekende leser wat met die King James Weergawe van die Bybel vertroud is.Om sekere gedeeltes van die artikel relevant en meer toepaslik vir die Afrikaanse leser te maak, hoofsaaklik waar hierdie aspekte ter sprake kom, is die artikel hier en daar aangepas. Wat die kernonderwerp van die oorspronklike artikel egter aanbetref, naamlik die Skriftuurlike betekenis van die begrip “uit God gebore”, is daar egter so na as moontlik aan `n letterlike vertaling gebly.

Laastens – alle Skrifaanhalings is uit die 1953(Hersiene) Uitgawe van die Bybel In Afrikaans.

Inleiding

Daar heers groot verwarring oor die begrippe “wedergebore” en insgelyks, “uit God gebore”. Jesus leer in Johannes 3:2-12 dat, om wedergebore te wees, letterlik beteken om uit die Gees gebore te word, `n geestelike wese te word, wat met die eerste opstanding, wanneer Jesus Christus terugkeer, sal plaasvind. Jesus Christus is die eersgeborene uit die dood. Niemand anders is al tot die ewige lewe opgewek nie – niemand is nog wedergebore nie. Daarbenewens is die frase “uit God gebore” die gevolg van twee verkeerd vertaalde Griekse woorde, die resultaat van die wanopvatting dat mens, met bekering,  wedergebore word.

`n Wanvertaling van I Johannes 3:9

Die foutiewe vertaling van twee Griekse woorde in I Johannes 3:9 in die Engelse King James asook die Afrikaanse vertaling, lê aan die wortel van die probleem. Die 1953, (hersiene), Afrikaanse vertaling lees: “9Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore”( I Joh. 3:9). Hierdie vers, soos hier vertaal, veroorsaak onversoenbare teenstrydighede met ander skrifgedeeltes, nie net in die Brief van Johannes I maar ook die res van die Nuwe Testament.

 In teenstelling met hierdie verkeerde vertaling, het Johannes geskryf dat Christene wat die Heilige Gees het wel sondig en dat dit vir hulle nodig is om hulle sondes voor Jesus Christus te bely ter vergewing daarvan: “7Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.

8As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.

9As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

10As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.

My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.

2En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld” ( I Joh. I:7-10; 2:1-2).

In dieselfde brief het Johannes geskryf dat, as iemand `n broeder sou sien sondig, (dit is, `n sonde wat nie tot die dood is nie – m.a.w. `n sonde wat nie vergewe kan word nie), hy vir daardie broeder moet bid en dat God aan hom lewe sou skenk, dit is, vergifnis sal skenk: “16As iemand sy broeder ‘n sonde sien doen wat nie tot die dood is nie, moet hy bid, en Hy sal hom die lewe gee—vir die wat nie ‘n sonde tot die dood doen nie. Daar is ‘n sonde tot die dood; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie.

17Alle ongeregtigheid is sonde, en daar is ‘n sonde wat nie tot die dood is nie” (I Joh. 5:16-17).

Hier volg `n lys van skrifgedeeltes uit die eerste, tweede en vyfde hoofstukke van Johannes I wat in direkte kontras is met I Joh. 3:9, soos dit tans vertaal staan, “9Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore”.

I Joh. 1:7-10; 2:1-2 and 5:16-17:

1) Die bloed van Jesus Christus reinig ons van elke sonde

2) As ons sê dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself

3) As ons ons sondes bely … om ons die sondes te vergewe

4) Hy reinig ons van alle ongeregtigheid

5) As ons sê dat ons nie gesondig het nie maak ons Hom tot leuenaar

6) Ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle nie moet sondig nie

7) as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus

8) Hy is ‘n versoening vir ons sondes

9) nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld

Dit sou totaal teenstrydig wees vir Johannes om in die eerste en laaste gedeelte van sy kort brief te skryf hoe dat bekeerde broeders wel sondig en vergifnis nodig het en terselfdertyd in I Joh. 3:9 te skryf dat “9Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie” en “en hy kan nie sondig nie”. Aangesien die skrifgedeeltes mekaar nie kan weerspreek nie, wat dan, is die oplossing?

Twee verkeerd vertaalde woorde in I Johannes 3:9: Slegs Jesus is wedergebore deur die opstanding uit die dood. Niemand anders sal wedergebore word uit die dood totdat Jesus Christus terugkeer nie. Verdermeer is vers 9, soos vertaal, nie op Jesus Christus van toepassing nie en kan ook nie op Christene van toepassing wees nie angesien nie een van hulle uit die dood uit opgewek is nie. `n Verdere bestudering van hierdie vers bring twee woorde wat verkeerd uit die Grieks vertaal is, aan die lig.

“Uit God gebore”: Die eerste wanvertaalde woord word in die sinsdeel, “uit God gebore”, aangetref. Die woord, “gebore”, is vertaal vanaf die Griekse gennaw gennao. Afhangende van die konteks van die tersaaklike skrifgedeelte waarin die woord gennao voorkom, kan dit hetsy as “verwek” of as “gebore” en ook, van `n vrou, om lewe aan `n kind te skenk, soos reeds gestel. In die Engelse King James byvoorbeeld, is gennao 55 keer as “beget, begat”  of  “begotten”, (“verwek”), 37 maal as “born” en 4 keer as “conceive, bear, brought forth, deliver,” of “gender”, vertaal. (Wigram,  Englishman’s Greek Concordance of the New Testament).

In die geslagsregister van Jesus se fisiese afstamming word gennao 42 keer gebruik en is korrek as “verwek” vertaal omdat die geslagslyn deur die vader, wat die seun “verwek”, loop.

Dit sou dus in hierdie verse waarin die geslagsregister aangegee word verkeerd gewees het om gennao as “gebore” te vertaal aangesien vaders nie geboorte skenk nie; hulle “verwek”. Ook in die geval van Mattheus 1:20 is gennao, in die 1953 Afrikaanse vertaling ten minste, korrek as as “verwek is” vertaal. “20Maar terwyl hy dit in die gedagte gehad het, verskyn daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan hom en sê: Josef, seun van Dawid, wees nie bevrees om Maria, jou vrou, by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees (Matt. 1:20).

Lukas het ook die werkwoord gennao in sy weergawe van die engel Gabriël se aankondiging aan Maria, gebruik. In Lukas 1:35 staan daar: “ 35En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word.”

In hierdie sinsdeel is gennao egter nie, in die oorspronklike Grieks, in die toekomstige tyd geskryf nie.Inteendeel, dit is in die enkelvoudige, onsydige, teenwoordige of onvoltooide tyd,  passiewe vorm van die werkwoord geskryf, te wete, gennwmenon gennomenon. Met ander woorde, die korrekte vertaling is eerder: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom sal die Heilige wat in jou verwek word, die Seun van God genoem word”. Hierdie gebruik van die teenwoordige tyd, passiewe vorm van die deelwoord dui aan dat , terwyl Gabriël besig was om met Maria te praat, God die Vader besig was om, deur die krag van die Heilige Gees, haar te bevrug, met ander woorde, lewe in haar te “verwek”. Dit is daarom verkeerd om die teenwoordige tydsvorm van die deelwoord gennao in hierdie vers as `n toekomstige gebeurtenis te vertaal. Alhoewel dit waar is dat daar `n geboorte in die toekoms sou plaasvind, is dit nie die letterlike betekenis van gennomenon nie. Die teenwoordige tydsvorm slaan hier op wat die Heilige wat besig was om in haar verwek te word, genoem sou word en nie op Sy toekomstige geboorte nie.

Teen hierdie agtergrond kan die eerste gedeelte van I Johannes 3:9 gekorrigeer word deur gennao eenvoudig as “verwek” in stede van “gebore”, te vertaal. Gevolglik lees die korrekte vertaling dan: “Elkeen wat deur God verwek is…”. Die sinsdeel “wat …verwek is” word vertaal vanaf die Griekse deelwoord, gegennhmenov gegennemonos, wat die verlede tyd, passiewe deelwoordvorm van die werkwoord gennao is. Dit beteken dat die verwekking alreeds, in die verlede, plaasgevind het. Net soos in die lewe van mense, is `n verwekking nie `n geboorte nie. Die verwekking gebeur eers en dan, na `n tydperk van swangerskap, vind die geboorte plaas.

“Doen geen sonde nie”: Die tweede sinsdeel in I Joh. 3:9 wat nie akkuraat vertaal is nie, is: “doen geen sonde nie”. Daar bestaan geen twyfel dat bekeerde mense sondig nie. Maar, met opregte berou en bekering daarvan, deur die genade van God en die bloed van Jesus Christus, kan daardie sondes vergewe word. Die sleutel tot begrip van hierdie sinsdeel is `n akkurate vertaling van die Griekse werkwoord poiei poiei, vertaal as “doen”. Soos in vers 9 gebruik is poiei poiei in die derde persoon-, enkelvoud-, teenwoordige tyd- vorm van die werkwoord poiew poieo wat beteken: “to do, generally, , i.e., habitually, to perform, to execute, to exercise, to practice,  i.e.,  to  pursue  a  course  of  action,  to  be  active,  to  work  …”  (Berry,  Greek-English Lexicon of the New Testament, p. 81).   

Die tema van Johannes se sendbrief is nie die Christen se onvermoë om te sondig nie. Daarom beteken poiei in hierdie konteks beoefening in die sin van gewoonte. As poiei in vers 9 as “beoefen nie sonde nie”, weergegee word, dan ruim dit die teenstrydighede uit die weg. Die korrekte vertaling van hierdie gedeelte van I Joh. 3:9 is dus: “Elkeen wat deur God verwek is beoefen nie sonde nie”. Hierdie stelling is ook waar en dra die oorspronklike betekenis van die Grieks oor. Die betekenis van poiei word dan ook deurgetrek in die tweede gedeelte van vers 9 wat dan moet lees, “kan nie sonde beoefen nie”. Die hele vers, akkuraat vertaal, is dan: “Elkeen wat deur God verwek is beoefen nie sonde nie want Sy saad van verwekking bly in hom en hy kan nie sonde beoefen nie want hy is deur God verwek”. Hierdie vertaling strook met die res van Johannes se sendbrief en ruim alle teenstrydighede uit die weg.

Die Bekeringservaring en -Proses.

Jesus het gesê, “14Want baie is geroep, maar min uitverkies.” (Matt. 22:14). Hoekom word net min gekies? Dit is omdat die baie nie op God se roeping reageer nie. Alhoewel hulle die woord hoor, gee hulle nie oor aan God nie. Die min wat reageer gee hulleself aan God oor en dan begin Hy met hulle werk. Jesus het hierdie feit duidelik met die gelykenis van die saaier en die saad geïlustreer: “ 18Luister julle dan na die gelykenis van die saaier.

19As iemand die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie, kom die Bose en roof wat in sy hart gesaai is—dit is hy by wie langs die pad gesaai is.

20En by wie op rotsagtige plekke gesaai is—dit is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem;

21maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net vir ‘n tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die woord, struikel hy dadelik.

22En by wie in die dorings gesaai is—dit is hy wat die woord hoor, maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar.

23En by wie op die goeie grond gesaai is—dit is hy wat die woord hoor en verstaan, wat dan ook vrug dra en oplewer: die een honderd-,die ander sestig-, die ander dertigvoudig.” (Matt. 23:18-23).

Wanneer `n mens begin om op die roep van God te reageer, begin God die Vader mens trek. Jesus het gesê: “44Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.” ( Joh. 6:44). Die Vader hou aan om `n mens te trek solank as wat mens bly glo en die Woord van God gehoorsaam soos wat mens dit leer. Maar, sou mens in enige stadium die roeping en nadertrekking van God weerstaan, dan, ooreenkomstig die oordeel van God, hou Hy op om met so-`n persoon te handel.

Bekering: Die roeping deur God die Vader en Jesus Christus gaan uit deur die prediking van die Evangelie en deur die lees van die Woord van God. Inkering, (as een van die komponente van bekering, ook genoem “sondebesef”), is die eerste stap in die proses van beantwoording van die roeping van God. Alhoewel dit die Heilige Gees is wat mens van sonde oortuig en tot inkering lei, (Rom. 2:4), moet elke mens self kies of hy of sy hom of haar wil bekeer van sonde (Luk. 13:1-5).     

Toe Petrus in 30 nC op die dag van die Fees van Weke, ook genoem “Pinkster”, so kragtig die evangelie verkondig het en hy van die dood en opstanding van Jesus gepraat het, het hy dit duidelik gemaak dat elkeen van die mense daar teenwoordig, se sondes Jesus gekruisig het. Hierdie boodskap het duisende tot bekering en doop gelei: “36Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het.

37Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders?

38En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.

39Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.

40En met baie ander woorde het hy hulle besweer en vermaan en gesê: Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag.

41Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drie duisend siele toegebring.” (Hnd. 2:36-41). Ware, goddelike, sondebesef lei tot bekering: “19Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom,” (Hnd. 3:19).

Doop: Die tweede stap in antwoord op God se roep, is waterdoop. Soos Petrus verkondig het, moet die gelowige bekeerling gedoop word. Die doop is met volle onderdompeling in water en dit verteenwoordig die gelowige bekeerling se vereniging in die dood van Jesus Christus ter vergifnis van sondes. Die apostel Paulus het soos volg oor die ware betekenis van die doop geskryf: “Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly dat die genade meer kan word?

2Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?

3Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?

4Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.

5Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding;

6aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou worden ons nie meer die sonde sou dien nie.

7Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde.

8As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe, [met die eerste opstanding]

9omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie.

10Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God.

11So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.

12Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie.

13En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.” (Rom. 6:1-13).

Diegene wat gedoop is, is dood vir `n lewe van sonde-beoefening, om te sondig as `n lewenswyse. Hulle moet in nuutheid van lewe wandel en nie toelaat dat sonde in en oor hulle vleeslike liggame heers nie, maar daarteen veg om sodoende elke gedagte in gevangeneskap tot gehoorsaamheid van Jesus Christus (II Kor. 10:4-5). Aangesien diegene wat gedoop is steeds sterflike liggame het is dit voor-die-handliggend dat hulle nog nie wedergebore is as geestelike wesens nie. Veeleerder is hulle “verwek” toe hulle die Heilige Gees ontvang het – God die Vader se “saad” leef in hulle.

Ontvangs van die Heilige Gees: Die derde stap in hierdie proses is om die Heilige Gees te ontvang, wat volg op bekering en doop. Die apostel Petrus het gesê: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word…tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.” Die gawe van die Heilige Gees word gegee deur die oplegging van hande (Hand. 8:14-17; 19:5-6).  

Wanneer iemand die Heilige Gees ontvang word hy of sy verwek en ontvang die “saad” van ewige lewe vanaf God die Vader. Daarom het die apostel Johannes in I Joh. 3:9 geskryf: “Elkeen wat deur God verwek is beoefen nie sonde nie want Sy saad van verwekking bly in hom en hy kan nie sonde beoefen nie want hy is deur God verwek

Die Griekse woord vir “saad” is sperma sperma sperma. Hierdie selfde woord word in Afrikaans gebruik vir die saad van mens se natuurlike vader. Die vader se sperm verwek of bevrug die moeder se eiersel en `n nuwe lewe word ontvang – verwek, maar om nog gebore te word.  Net so, wanneer mens die Heilige Gees ontvang, verwek God die Vader die gelowige bekeerling met Sy saad van ewige lewe en `n nuwe geestelike lewe word ontvang – verwek, maar om nog gebore te word. So lank as wat die saad van ewige lewe van God in hom bly, sal die gelowige nie uit gewoonte sonde beoefen nie. God se Gees sal van sonde in hart en verstand oortuig en hom tot berou en inkering, bekering, lei, wat tot herstel lei.

Die Ooreenkomste Tussen Fisiese en Geestelike Verwekking

Toe God die mens in die begin gemaak het, het Hy gesê, “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.

27En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.

28En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.” (Gen. 1:26-28).

Soos verhaal in die eerste hoofstuk van Genesis, het God die mens met die vermoë geseën om in Sy skepping te deel deur kinders in die wêreld in te bring – hulleself in werklikheid voort te plant – kinders na hulle eie beeld. Hy het dit verordineer dat kinders die resultaat sal wees van liefde en die “een-vlees” vereniging tussen man en vrou. So het die mense-familie tot groot getalle aangegroei. Net so is God besig om Homself voort te plant in mense deur die geestelike proses van bekering wat met sondebesef, doop en verwekking deur die Heilige Gees begin – die saad van ewige lewe vanaf God die Vader. Diegene wat getrou bly tot die einde sal weer gebore word met die eerste opstanding, in Sy geestelike familie in – herskep na Sy geestelike beeld om in Sy heerlikheid te deel en vir ewig te lewe.         

Verseël deur die Heilige Gees

Hoe word mens met die Heilige Gees “verseël”? God die Vader verwek die gelowige bekeerling met die saad van ewige lewe deur die krag van die Heilige Gees wat met die gees van sy of haar verstand verenig en hulle word geseël. Paulus het verduidelik dat die verwekking met die Heilige Gees net die voorsmaak, die godspenning, van die erfdeel van God is: “11in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil,

12sodat ons kan wees tot lof van sy heerlikheid, ons wat reeds tevore op Christus gehoop het,

13in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,

14wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.” (Eff. 1:11-14). En weer, “21Maar Hy wat ons saam met julle bevestig in Christus en ons gesalf het, is God,

22wat ons ook verseël het en die Gees as onderpand in ons harte gegee het.” (IIKor. 1:21-22).

Weer Verwek: Die apostel Petrus het oor hierdie nuwe verwekking geskryf: “Petrus, ‘n apostel van Jesus Christus, aan die vreemdelinge van die verstrooiing in Pontus, Galásië, Kappadocië, Asië en Bithínië,

2uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus: Mag genade en vrede vir julle vermenigvuldig word!

3Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte [wederverwekking] geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode,

4sodat ons ‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons

5wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd.

23want julle is wedergebore [weer verwek] nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly” (I Pet. 1:1-5, 23). Petrus het in die aangehaalde skrifgedeeltes die Griekse woord anagennaw anagenao gebruik, wat letterlik “weer verwek” beteken.

Wat Petrus aangaande hierdie wederverwekking geskryf het is presies wat die apostel Johannes bedoel het toe hy nog twee addisionele opmerkings geskryf het oor die verwekking deur God: “Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit [deur] God gebore [verwek]; en elkeen wat die Vader liefhet, het ook die een lief wat uit Hom gebore [verwek] is.

18Ons weet dat elkeen wat uit [deur] God gebore [verwek] is, nie sondig nie [sonde beoefen nie]; maar hy wat uit [deur] God gebore [verwek] is, bewaar homself, en die Bose het geen vat op hom nie.” (Joh. 5:1, 18).  

Verlossing is Skepping:

`n Nuutverwekte kind in die moeder se baarmoeder is die begin van `n nuwe skepping. Gedurende die nege maande periode van swangerskap word die nuutverwekte baba voortdurend gevorm volgens die patroon van die gene en chromosome wat hy of sy van sy of haar moeder en vader ontvang het, totdat die baba ten volle ontwikkel is. Die baba moet fisies vir die hele termyn groei ten einde gebore te word. Op dieselfde manier moet `n nuutverwekte gelowige ook geestelik groei ten einde tydens die eerste opstanding weer gebore te word. `n Christen se geestelike groei lewer goddelike karakter soos wat hy of sy geestelik herskep word na die beeld van God die Vader. Dit is onontbeerlik vir elke verwekte Christen, om: “18Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus. Aan Hom kom die heerlikheid toe, nou sowel as in die dag van die ewigheid. Amen.” (II Pet. 3:18).

Deur `n liefdevolle geestelike verhouding met God die Vader en Jesus Christus deur daaglikse gebed, bybelstudie en te wandel volgens die gebooie van God, groei mens geestelik. Hierdie nuwe geestelike skepping is die werk van God die Vader en Jesus Christus deur die krag van die Heilige Gees. Die gelowige se geestelike groei is die resultaat van die deurlopende werkmanskap van God: “8Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;

9nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.

10Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” (Eff. 2:8-10).

Deur die krag van die Heilige Gees word die Christen `n nuwe mens deurjou los te maak van die ou, vleeslike self en lewenswyse en mens in die gees van jou denke hernuwe word. Paulus het geskryf dat God voortdurend in die hart en verstand van elkeen wat Hy met Sy Gees verwek het, werk: “22dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan,

23en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed

24en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.” (Efe. 4:22-24).

God is besig om `n wonderbare nuwe skepsel binne-in elke ware Christen deur die krag van die Heilige Gees te vervolmaak: “17Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” (II Kor. 5:17).

Paulus het ook in Galasiërs 4:19, dit wat God in elke ware Christen doen, as “ Christus in julle `n gestalte..”, beskryf. Hy het geskryf dat aan die heiliges insig en begrip van, “26naamlik die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges,

27aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder [in] julle, die hoop van die heerlikheid.” (Kol. 1:26-27), gegee is.

Alhoewel dit God die Vader en Jesus Christus is wat die vervolmaking doen, moet elke nuutverwekte kind van God in liefdevolle gehoorsaamheid toegee. Geestelike groei vind in die hart en die verstand plaas: “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.

2En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” (Rom. 12:1-2).

God vernuwe deurlopend die verstand deur die krag van die Heilige Gees deur Sy wette en gebooie in ons harte te skryf: “15En ook die Heilige Gees gee aan ons getuienis;

16want nadat Hy tevore gesê het: Dit is die verbond wat Ek met hulle sal sluit ná dié dae, spreek die Here verder: Ek sal my wette gee in hulle hart, en in hulle verstand sal Ek dit inskrywe,” (Heb. 10:15-16). Hierdie werking kan vergelyk word met die werklike herprogrammering van die Christen se hart en verstand – die proses van bekering.

Ware Christene wat weer verwek is deur die saad van ewige lewe van God die Vader word op hierdie manier vervolmaak. Die ou vleeslike verstand en die liggaam van sonde moet dood gemaak word deur die krag van die Heilige Gees: “5Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is,

6waardeur die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom,

7waarin julle ook vroeër gewandel het toe julle daarin geleef het.

8Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond.

9Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het

10en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper,

11waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Skith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal.” (Kol. 3:5-11). En weer, “ 16Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe.” ( II Kor. 4:16).

Ten einde `n oorkommer te wees moet Christene hulle sondes voortdurend ter harte neem en voor God bely en om vergifnis vra met hartgrondige gebed: “ 7Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.

8As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.

9As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (I Joh. 1:7-9).

Soos ons gesien het is dit God die Vader en Jesus Christus wat die suiwering en reiniging deur die krag van die Heilige Gees doen. Jesus gebruik die Woord van God om die hele kerk te reinig want “…soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het

26om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die Woord,

27sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees.” (Efe. 5:25-27). Die “wassing met water deur die Woord” word bewerkstellig deur daaglikse bybelstudie en gebed, gepaardgaande met die hernuwing van die Gees. Paulus het so oor die bekeringsproses en hernuwing van die Heilige Gees geskryf: “3Want ons was ook vroeër onverstandig, ongehoorsaam, op ‘n dwaalweg, verslaaf aan allerhande begeerlikhede en singenot; ons het in boosheid en afguns gelewe; ons was haatlik en het mekaar gehaat.

4Maar toe die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het—

5nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte [wederverwekking] en die vernuwing deur die Heilige Gees

6wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser;

7sodat ons, geregverdig deur sy genade, erfgename kan word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe.” (Titus 3:3-7).

Die resultate van die geestelike opwekking en hernuwing van die Christen se verstand is dat die wette en gebooie van God op die tafels van die hart (Heb. 8:10; 10:16-17), geskryf word en om om in geestelike karakter te groei ten einde die gesindheid van Christus te verkry: “As daar dan enige troos in Christus is, as daar enige vertroosting van die liefde, as daar enige gemeenskap van die Gees, as daar enige innige tederheid en ontferming is,

2maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een van siel, een van sin.

3Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.

4Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n.

5Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.” (Fil. 2:1-5).   

Die Liefdevolle Teregwysinge van God: God die Vader wys al Sy verwekte kindersdeur die omstandighede van die lewe tereg. Net soos wat dit nodig is om kinders tereg te wys ten einde hulle op koers te hou, wys God Sy verwekte kinders tereg om hulle Sy Weg te leer. Paulus het geskryf: “5En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie;

6want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem.

7As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie?

8Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie.

9Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie?

10Want húlle het ons wel ‘n kort tydjie na hulle beste wete getugtig; maar Hy tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word.

11Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.

12Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op;

13en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.

14Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;” (Heb. 12:5-14).

Teregwysing is `n belangrike deel van `n Christen se groei en oorkoming. Teregwysing dui God se liefde aan.Om toe te gee aan God se teregwysing dra vrugte van geregtigheid wat heilige regverdige karakter skep en ons in staat stel om God nog meer lief te hê en in genade en kennis toe te neem. Dit is deel van hoe God Sy geestelike familie loskoop – deur elkeen van Sy verwekte kinders in `n nuwe skepsel te omskep.

Beproewinge Terwyl die Wêreld Oorkom Word: Christene lewe in die wêreld maar is nie deel van diewêreld nie. Hulle word gevolglik gekonfronteer met beproewinge en toetsings van hulle geloof. Petrus het geskryf: “12Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie;

13maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel.

14As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus. Wat hulle betref, word Hy wel gelaster; maar wat julle betref, word Hy verheerlik.

15Want niemand van julle moet ly as moordenaar of dief of kwaaddoener of as een wat hom met die sake van ‘n ander bemoei nie.

16Maar wanneer iemand as ‘n Christen ly, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik in hierdie opsig.” (I Pet. 4:12-16).

Die doel van beproewinge is om `n Christen se geloof te versterk en te vervolmaak:  “6Daarin verheug julle jul, al word julle nou—as dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge,

7sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus;

8vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap,

9en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry.” (I Pet. 1:6-9).

Al die beproewinge waardeur `n Christen gaan en verduur is ter vervolmaking van hulle geloof. Gedurende beproewinge moet Christene tot God bid en Hom soek, Sy beloftes van uitlewering aangryp, en Hom om hulp en ingryping smeek. Ten spyte daarvan dat ons beproewinge in die gesig staar gee God elke Christen die versekering van verlossing, ongeag hoe moeilik `n beproewing ookal mag wees: “13Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek [beproef] word nie; maar Hy sal saam met die versoeking [beproewing] ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.” (I Kor. 10:13). Jesus Christus het beloof dat Hy altyd by Sy eie sal wees (Matt. 28:20), en hulle nooit sal verlaat nie. “…want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.

6Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ‘n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ‘n mens aan my doen?” (Heb, 13:5-6).

Die Vervolging en Lyding van William Tyndale

William Tyndale was die eerste mens wat die Nuwe Testament uit Grieks na Engels vertaal het en het hy dit in 1526 gepubliseer. Hy het verskriklike vervolging van die godsdienstige en burgerlike gesagshebbers ervaar. Uiteindelik is hy in 1536 op die brandstapel vermoor omdat hy die Woord van God vertaal en gepubliseer het.As uitvloeisel van sy lyding en vervolging het hy oor die doel van `n Christen se beproewinge en verdrukkings geskryf:  “This is written [the things in the Old Testa ment] for our learning: for verily he is a true God; and is our God as well as theirs; and his promises are with us, as well as with them; and he [is] present with us, as well as he was with them.  If we ask, we shall obtain; if we knock, he will open; if we seek, we shall find; if we thirst, his truth shall fulfill our lust [desire],  Christ is with us until the world’s end.  Let his little flock be bold therefore.  If God be on our side, what matter maketh it who be against us,be they bishops, cardinals, popes, or whatsoever names they will?      “Mark this also, if God send thee to the sea, and promise to go with thee, and to bring

thee safe to land, he will raise up a tempest against thee, to prove whether thou wilt abide by his word, and that thou mayest feel thy faith, and perceive his goodness.   For if it were always fair weather, and thou never brought into such jeopardy, whence his mercy only delivered thee, thy faith should be but a presumption, and thou shouldest be ever unthankful to God and merciless unto thy neighbour.

“If God promise riches, the way thereto is poverty.   Whom he loveth, him he chasteneth: whom he exalteth, he casteth down: whom he saveth, he damneth first … If he promise life, he slayeth first: when he buildeth, he casteth all down first.  He is no patcher; he cannot build on another man’s foundation.   He will not work until all be past remedy, and be brought unto such a case, that men may see, how that his hand, his power, his mercy, his goodness and truth, hath wrought altogether.  He will let no man be partaker with him of his praise and glory.  His works are wonderful, and contrary unto man’s works.  Who ever, saving he, delivered his own Son, his only Son, his dear Son, unto the death, and that for his enemies’ sake, to win his enemy, to overcome him with love, that he might see love, and love again, and  of love to  do  likewise to  other men,  and to overcome  them  with well  do- ing?”  (Parker Society, Obedience of a Christian Man, pp. 135-136).

Die apostel Paulus het die broeders in Rome bemoedig om, ten spyte van probleme of lyding altyd die belofte van God se gawe van kindskap in gedagte te hou: “14Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God.

15Want julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!

16Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is;

17en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.

18Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.” (Rom. 8:14-18).

Al die gevegte teen sonde, God se teregwysing, beproewinge en verdrukkings die lyding en vreugde, die groei en oorkoming, alles is `n noodsaaklike deel van Christelike groei tot volmaaktheid in Christus: “ 12Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie.

13En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.

14Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.

15Wat dan? Sal ons sonde doen, omdat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade? Nee, stellig nie [MAG DIT NOOIT WEES NIE!]

16Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie òf van die sonde tot die dood, òf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid?

17Maar ons dank God dat julle wel diensknegte van die sonde was, maar van [uit] harte gehoorsaam geword het aan die voorbeeld van die leer wat aan julle oorgelewer is,

18en, vrygemaak van die sonde, het julle diensbaar [dienaars] geword aan [van] die geregtigheid.

19Ek spreek menslikerwys ter wille van die swakheid van julle vlees; want net soos julle jul lede diensbaar gestel het aan die onreinheid en wetteloosheid om wetteloos te wees, so moet julle nou jul lede diensbaar stel aan die geregtigheid tot heiligmaking.” (Rom. 6:12-19).  

Net soos wat `n ongebore baba tot die volle termyn van swangerskap moet groei ten einde gebore te kan word, moet verwekte Christene tot die volle termyn groei en ontwikkel – vervolmaak vir die eerste opstanding. Met hierdie doel voor oë het God die krag van Sy Heilige Gees, Sy God-geïnspireerde Woord en Sy onderwysers gegee. Die hele vergadering van broeders [geliefdes] en ouderlinge word die “liggaam van Christus “ genoem, wat die Kerk van God is. God die Vader en Jesus Christus gebruik en inspireer die bediening om die heiliges tot die volheid van Jesus Christus te vervolmaak: “11En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars,

12om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus,

13totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse [volmaakte] man, tot die mate van die volle grootte van Christus;

14sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring;

15maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus,

16uit wie die hele liggaam—goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate—die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde.” (Efe. 4:11-16).   

Die apostel Johannes het geskryf dat ons noual die kinders van God is – alhoewel nog ongebore. Ons is soos babas in die baarmoeder en dit blyk nie nou wat ons sal wees nie want die werklike geestelike geboorte sal eers plaasvind wanneer Jesus terugkeer – dan sal ons soos Hy wees: “Kyk wat ‘n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie geken het nie.

2Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.

3En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.” (I Joh. 3:1-3).

Hierdie is die rede en hoop wat Christene, wat weer verwek is, die krag en die inspirasie, liefde en vasberadenheid gee om God se doel in hulle lewe te vervul.

 

BOOKS